Die Louwbroers
-
Toe N.P. van Wyk Louw in Junie 1970 oorlede is, is hy deur sowel skrywers as akademici gehuldig as die skrywer wat aan die Afrikaanse letterkunde internasionale status gegee het. Hy sal ook onthou word as ‘n kulturele ambassadeur vir Suid-Afrika, wat vir die Afrikaanse taal prestige in Europa verwerf het terwyl hy professor was in Amsterdam.
Meer as twintig jaar ná sy dood het een van sy navolgers, die digter Adam Small, Van Wyk Louw geprys as een van die eerste skrywers wat Afrikaans gesien het as ‘n Afrika-taal. Van Wyk Louw het hom die belangrikheid van “hierdie tyd” en “hierdie plek” laat besef, het Small gesê.
Nicolaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 in die Karoodorpie Sutherland gebore, tweede van die vier seuns van die prokureur Bismarck von Moltke Louw.
Sy skoolopleiding was eers in Afrikaans op Sutherland en daarna in Engels aan die South African College School in Kaapstad. Hy verwerf die grade B.A., B.Ed en M.A. aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook vanaf 1929 tot 1949 ’n lektorspos in Opvoedkunde aan dieselfde universiteit beklee.
Van Wyk Louw en sy eerste vrou Joan Wessels is in 1930 getroud en hulle het twee dogters gehad. In 1941 is hy getroud met Truida Pohl, die moeder van sy derde dogter Reinet en sy seun Peter. (Die bekende Afrikaanse aktrise Anna Neethling-Pohl was haar suster.) Truida het van sy dramas vir die radio en vir die verhoog verwerk.
Toe Van Wyk Louw se vroegste gedigte deur die kritici verwerp is, het hy belangstelling in die digkuns verloor en hom na die filosofie gewend. Later het hy met die aanmoediging van sy broer W.E.G. Louw weer begin dig. Sy debuutbundel, Allenspraak, is in 1935 gepubliseer. Vyf ander bundels het tussen 1937 en 1962 gevolg, waaronder die epiese gedig Raka (1941), waarop onder meer ‘n ballet gebaseer is. Hy het sewe hoorspele vir die radio geskryf, asook drie versdramas: Die dieper reg (1938), Germanicus (1956) en Die pluimsaad waai ver (1972).
Saam met sy vriende I.W. van der Merwe en J. du P. Scholtz het Louw die Vereniging vir die Vrye Boek gestig om publikasie van Afrikaanse boeke te bevorder. Tussen 1939 en 1970 is Van Wyk Louw se talryke artikels en literêre studies vir koerante en tydskrifte ook in boekvorm gepubliseer. In 1962 verskyn sy magnum opus, die digbundel Tristia.
Die letterkundige tydskrif Standpunte word in 1945 opgerig. Die inisiatief het uitgegaan van N.P. van Wyk Louw, sy broer W.E.G Louw en H.A. Mulder.
Die tydperk 1950 tot 1957, toe Van Wyk Louw aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam verbonde was, was sy vrugbaarste jare. Sy belangrikste werke is in hierdie tyd geskrywe en hy het ook elders in Nederland en België lesings gegee. Na sy terugkeer in 1958 het hy ’n pos beklee aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Hy het eredoktorsgrade ontvang van die Rijksuniversiteit van Utrecht, asook van drie verskillende Suid-Afrikaanse universiteite. Benewens die SAUK-prys (1961) en die C.N.A.-prys (1963), is die Hertzogprys vyf keer aan hom toegeken. Raka is reeds in Engels, Duits, Frans, Italiaans en in vier Afrika-tale vertaal, naamlik Isizulu, Sesotho, Isixhosa en Kwanyama.
litnet.co.za
-
William Ewart Gladstone Louw is op 31 Mei 1913 op Sutherland in die Roggeveld gebore, die jongste seun van die gesiene en gegoede prokureurs-egpaar Moltke en Poppie Louw. Omdat die gesin einde 1920 na Kaapstad verhuis, ontvang Gladstone sy skoolopleiding hoofsaaklik aan die South African College School. Soos sy huislike agtergrond, dra sy skoolopleiding dus grootliks ’n Engelse karakter.
Ná skool studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad in die Lettere, waar hy sy B.A. en M.A. in 1933 en 1935onderskeidelik verwerf. Einde 1935 vertrek hy na Nederland. Weens die oorlog keer hy in 1939 terug, maar verwerf nogtans sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad in 1942. Van 1944 tot 1957 is hy hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Rhodes Universiteit, Grahamstad.
W.E.G. Louw se debuutbundel, Die Ryke Dwaas, bevat verse geskryf tot en met sy twintigste jaar. Met hierdie bundel lui hy ’n onmiskenbare vernuwing in die Afrikaanse poësie in. In 1934 ontvang hy die Hertzogprys daarvoor.
Hy het ook sy medeskrywers en -digters, onder wie sy broer N.P. van Wyk Louw, besiel en aangemoedig. Hy het opgetree as pleitbesorger in die nuwe rigting en het ’n leidende aandeel gehad aan die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek. In 1945 was hy saam met sy broer en H.A. Mulder stigter van die blad Standpunte.
In 1944 trou hy met die komponis Rosa Nepgen, wat ook later van sy gedigte getoonset het. Uit die huwelik is twee seuns gebore.
W.E.G Louw was van 1958 tot 1966 kunsredakteur van Die Burger, waarin hy ‘n gereelde kunsrubriek behartig het. In 1966 is hy aangestel as professor in die Nederlandse Letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is in 1980 oorlede.
litnet.co.za